‘[Venter’s] crime threads are complex and nuanced, and her female characters are as richly rounded as male characters in thrillers usually are.’ – Cape Town ETC
Irma Venter is aan die Oos-Rand gebore, en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Port Natal, in Durban, voltooi. Sy het kommunikasiekunde (joernalistiek en radio) en internasionale politiek op die NWU se Potchefstroomkampus studeer. Sy was ook die Wapad studentekoerant se redakteur.
Deesdae is sy ’n joernalis by ’n mediamaatskappy in Kaapstad, waar sy in handel en nywerheid spesialiseer. Sy fokus meestal op die motorbedryf. Sy het al verskeie toekennings gekry, onder andere drie Pica-toekennings as handel- en nywerheidskrywer van die jaar, en een as die Afrika wetenskap- en tegnologiejoernalis van die jaar. Reis is haar passie, en sy het al ongeveer 30 lande besoek. Sy werk hard daaraan om die syfer so vinnig as moontlik te laat styg. Mongolië, Ysland en Rusland is nog op haar lys om te verken. Gelukkig laat haar werk haar toe om gereeld te reis. Sy hou van nuwe plekke, lughawens, woestyne, labradors, produkte wat in Suid-Afrika gemaak word, mense wat nog die moeite doen om kos te maak, lente en herfs, goeie whisky, goeie koffie en goeie sjokolade, en nie noodwendig in daardie volgorde nie. |